Die toeval is ’n mooi ding.
Inge bly op Vanzylsrus, 'n piepklein Kalahari-dorpie. Willem-Piet nog vêrder, al die pad in Pofadder.
Willem-Piet kuier by sy broer in Kathu en besluit om die Saterdag bietjie Vanzylrus toe te gaan en padlangs te kuier.
Sy broer, Radi, onthou toe dat hy saam met 'n meisie studeer het wat nou in Vanzylsrus skoolgee. Hy besluit toe om haar te bel. Inge en die ander juffrouens kuier óók padlangs op pad Askham toe. Sy kry 'n oproep van 'n vreemde nommer af en besluit toe om te antwoord. Radi vra toe of hulle kan kom kuier en sê dat hulle eintlik alreeds op pad is.
Lang storie kort, Inge kom by haar huis op Vanzyls en niemand is daar nie, sy bel toe terug en dring daarop aan dat hulle moet omdraai en by haar huis moet kom braai…
Willem-Piet het gehuiwer en Inge bied toe vir hulle slaapplek aan (op Vanzyls kry ’n mens nie baie kuiergaste nie, so sy moes die geleentheid met albei hande aangryp!).
Terug in Vanzyls. Die mooie Kalahari-sonsak word gevier en daarna steek Inge vuur aan en die gekuier begin.
Die volgende dag het Willem-Piet Inge se nommer gevat en so het die twee begin gesels.
Die dag daarna toe besluit Willem-Piet dat hy eers weer vir Inge moet gaan kuier voor hy terug Pofadder toe gaan. Kathu is immers nader aan Vanzylsrus as Pofadder. Na nóg 'n sonsondergang tussen die duine, het hulle albei die skoot hoog deur.